1/9
Looks like no tags are added yet.
Name | Mastery | Learn | Test | Matching | Spaced |
---|
No study sessions yet.
SWAARKRY EN DEPRESSIE LAAT LARISSA STERKER AAN DIE ANDERKANT UITKOM
Larissa Beukman moes dikwels haar ma se werk in die huis oorneem. Dit alles terwyl sy voltyds skool toe gegaan het, deur depressie gewerk het en na haar familie moes omsien.
Dit was vir haar 'n moeilike matriekjaar. Dié 18- jarige van die Hoërskool Dirkie Uys in Moorreesburg het egter sterker aan die anderkant uitgekom, die swaarkry oorkom en matriek met ’n A-simbool in geskiedenis geslaag.
Haar ma, wat ’n enkelouer is, het in 2017 in Malmesbury begin werk nadat hulle na Moorreesburg verhuis het.
Die gesin het eers in Piketberg gewoon waar hulle alles verloor het en moes ná die trek van voor af begin.
“My ma woon in die week in Malmesbury en ons sien haar net naweke as sy geld kan afstaan vir petrol.”
Haar negejarige sussie is serebraal gestremd en Larissa moet gereeld inspring om by die huis te help en na haar om te sien.
“My ouma woon by ons, maar sy het onlangs ’n beroerte gehad en tydelik die gebruik van die linkerkant van haar liggaam verloor.”
“Sy is nou beter, maar tydens daardie tyd moes ek baie in die huis help. Tydens die eksamen was daar darem tye wat my ouma na my sussie gekyk het en ek myself in die kamer toegemaak het om te kon leer,” sê sy.
Die naaste skool vir kinders met spesiale behoeftes is in Saldanha en volgens Larissa is dit te ver en duur om haar sussie daarheen te stuur en moet sy dus by die huis bly.
“Ek wil ’n sukses maak van my lewe sodat ons my sussie na ’n skool kan stuur dat sy ook onderrig kan ontvang,” sê sy.
Larissa het boonop van 2015 tot 2017 aan erge depressie gely en selfs in haar graad 11- jaar ’n klomp pille gedrink om haar eie lewe te probeer neem.
“Daarna is ek na ’n kliniek wat my baie gehelp het om die depressie onder beheer te kry. Selfliefde is die fondament waarop ons ’n gelukkige lewe bou. Ware selfliefde gaan nie oor enigiets wat jy kan koop nie. Selfliefde begin van binne. Dit is iets waaraan ons daagliks moet werk.
Ek het nog altyd hiermee gesukkel en dit het nie oornag gebeur nie. Ek het wel geleer dat selfliefde nie ’n bestemming is nie, maar ’n daaglikse oefening.
My raad aan ander is: wees lief vir wie jy is, foute en al. Dit is moeilik, maar dit beteken nie dat jy nie waardig is nie. Aanvaar jouself net soos jy is. Skep gewoontes wat gesond is, nie net geestelik nie, maar ook emosioneel. Prioritiseer jou drome. Besluit om tyd te spandeer met mense wat jou ondersteun, aanmoedig en motiveer om die beste weergawe van jouself te wees. Oefen en eet ’n gesonde en gebalanseerde dieet.”
“Alles het in plek begin val en my gemiddelde het met 20% gestyg,” sê sy. “Ek het besluit om myself te druk vir die beste en het danksy ’n goeie ondersteuningstelsel by die huis, bo die slegte tye uitgestyg.” Haar verhouding met haar ouma en ma het ook beter geword ná alles wat gebeur het.
“Ek praat nou makliker oor my probleme. Ek wou nooit daaroor praat nie, want ek wou nie hê mense moet my jammer kry nie.”
Bo en behalwe haar verantwoordelikhede by die huis, het Larissa haarself ook baie gedruk om betrokke te wees by die skool. Sy was onder meer ’n dirigent en het aan baie naskoolse aktiwiteite deelgeneem.
Noudat sy klaar is met matriek, gaan sy by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie se Wellington-kampus onderwys studeer.
“Weens ’n gesukkel met toegang tot die internet, kon ek nie betyds aansoek doen vir beurse nie, maar ek hoop om my verblyf en finansiële steun uitgesorteer te hê voordat ek begin studeer.”