Produksiefunksie Notas

Leerdoelwitte

  • Verduidelik totale gehaltebeheer (TGB) as deel van die gehaltebeheerstelsel.
  • Verduidelik die betekenis van produksiekoste.
  • Bespreek die komponente van produksiekoste.
  • Gee voorbeelde van primêre- en oorhoofse koste.
  • Verduidelik die betekenis van totale- en vaste koste.
  • Bereken die totale-, vaste- en veranderlike koste.
  • Bereken eenheidskoste, verkoopprys en wins.
  • Verduidelik die betekenis van die gelykbreekpunt.
  • Bereken die gelykbreekpunt.

Kernbegrippe

  • Stelsel: ‘n Georganiseerde rangskikking van dele om ‘n spesifieke uitkoms te bereik.
  • Produksiebeplanning: Die plan wat gebruik word in die produksieproses wat koste en tyd sal verminder en uitset sal vermeerder.
  • Produksiebeheer: Die bestuur van elke individuele taak en aksie in die produksieproses wat die beste resultate sal verseker.
  • Roetebepaling: Die proses om te bepaal wat die beste en goedkoopste volgorde vir bedrywighede sal wees.
  • Skedulering: Die proses om uit te werk hoeveel tyd benodig word om elke produksie taak te verrig.
  • Lading: Die proses om werk te verdeel tussen werkers en masjiene.
  • Uitreiking: Omskakeling van die beplanning in aksie, met instruksies vir die beweging van materiale, gereedskap en toerusting, kontrole van tyd en vloei van aktiwiteite asook toesighouding van die proses.
  • Opvolg: Die proses waarmee die besigheid seker maak dat die skedulering en produksieprosesse volgens plan verloop.
  • Inspeksie: Sluit in die kontrole van die gehalte van die proses en die finale produk.
  • Regstellende maatreëls: Sluit in enige aanpassing in die beplanningsproses.
  • Veiligheidsbestuur: Sluit in alle voorsorgmaatreëls wat nodig is om veiligheid in die werkplek te verseker.
  • Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid: Lig die rol uit van gesondheid en veiligheid asook die verantwoordelikheid van alle belanghebbendes wat daarby betrokke is.
  • Gehaltebeheer: Sluit in inspeksies van die finale produk om seker te maak dat dit voldoen aan die vereiste standaarde.
  • Gehalte-bestuursisteme: ‘n Raamwerk wat die besigheid gebruik om alle sleutelprosesse te bestuur en sodoende te verseker dat dit voldoen aan die vereiste standaarde.
  • SABS: Die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde, ‘n liggaam wat standaarde in Suid-Afrika bevorder en beheer.

Inleiding

  • In Graad 10 is 'n kennis gemaak met die produksiefunksie as deel van die ander besigheidsfunksies.
  • Daar is ook geleer oor gehalte en gehalteaanwysers vir die produksiefunksie.
  • In Graad 11 word uitgebrei op produksie en kyk na produksiestelsels, produksiebeplanning, bestuur van veiligheid, gehaltebeheer en produksiekoste.

Begrip van die produksiestelsels

Die rol van die produksiefunksie

  • Die produksiefunksie behels al die prosesse waarvolgens die organisatoriese hulpbronne van die besigheid aangewend/ingespan word ten einde die gewenste uitsette (produkte en/of dienste) aan die verbruikers/klante van die besigheid te lewer.
  • Die vervaardigingsfunksie behels die proses waarmee grondstowwe omskep word in voltooide produkte van hoogstaande gehalte, om aan die behoeftes van verbruikers te voldoen.
  • Om te verseker dat hierdie proses doeltreffend en effektief verloop, moet besighede ‘n baie goeie produksie bestuurstelsel in plek stel.
  • 'n Stelsel is 'n georganiseerde ranskikking van dele om 'n spesifieke uitkoms te bereik en daarom moet besighede besluit watter produksiestelsel die beste aan hulle behoeftes sal voldoen.
  • Om die beste stelsel te kies moet hulle kyk na drie kriteria, naamlik:
    • Die verskeidenheid van die produk.
    • Die volume van die produk wat vervaardig moet word.
    • Die masjinerie en toerusting wat gebruik gaan word.

Begrip van produksiestelsels

  • Daar is twee hooftipes produksiestelsels – ‘n deurlopende/ononderbroke, en ‘n onderbroke produksiestelsel.
    • Ononderbroke produksiestelsel
    • Onderbroke produksiestelsel
      • Massaproduksie
      • Lotproduksie
      • Stukproduksie
  • Besighede moet kies watter stelsel hulle wil gebruik.

Massaproduksie

  • Definisie: Massaproduksie staan ook bekend as vloeiproduksie of ononderbroke produksie. Dit is die vervaardiging van groot hoeveelhede produkte teen ‘n konstante tempo.
    • Voorbeelde sluit voorwerpe in soos potlode, motorvervaardiging en gebottelde water.
  • Kenmerke:
    • Groot hoeveelhede gestandaardiseerde produkte vloei deur die sisteem.
    • Produkte is identies en gaan deur dieselfde prosesse.
    • Produkte beweeg op die monteerbaan of produksielyn tot by die volgende stasie.
    • Elke werker is opgelei om ‘n spesifieke taak te verrig en spesialiseer in sy werk.
    • Die toerusting en masjinerie wat gebruik word is hoogs gespesialiseerd en duur.
    • Massaproduksie maak die produksieproses vinniger en verminder produksiekoste.
    • Die eenheidskoste van produkte is goedkoper.
    • Die massaproduksiestelsel is nie aanpasbaar om nuwe produkte te akkommodeer nie.
    • Die hoeveelheid produkte is dieselfde en gehaltebeheer kan beplan en deeglik uitgevoer word.
  • Voordele van massaproduksie:
    • Die produksieproses is vinniger, wat die omsettyd vinniger sal maak.
    • Die eenheidskoste van produkte is goedkoper en daarom kan die finale prys van produkte verlaag word.
    • Die gehalte van produkte is gestandaardiseer en dit is makliker om gehaltebeheer uit te voer.
    • Werkers spesialiseer in hulle taak en dit is makliker om hulle daarvoor op te lei.
    • Werk kan deurlopend gedoen word deur gebruik te maak van skofte vir die verskillende operateurs.
  • Nadele van massaproduksie:
    • Die oprigtingskoste van ‘n fabriek is baie duur omdat gespeisaliseerde masjinerie gebruik word.
    • Die massa produksieproses is nie aanpasbaar nie, en maak nie voorsiening vir unieke produkte nie.
    • Indien een masjien onklaar raak, word die hele produksieproses onderbreek.
    • Werkers kan verveeld raak, omdat hulle dieselfde taak die hele tyd verrig.
    • Die toerusting vereis dikwels gespesialiseerde operateurs wat hoër salarisse verdien.

Lotproduksie

  • Definisie: Met lotproduksie, gaan produkte deur die produksieproses in lotte (bondels). Dit word vanaf begin tot einde voltooi, voordat daar met ‘n nuwe lot (bondel) begin word. Elke lot (bondel) se kenmerke verskil effens van die vorige, omdat kliënte verskillende vereistes stel.
    • Voorbeelde van lotproduksie is die druk van strooibiljette vir verskillende kliënte, gebak soos koeke en ander lekkernye in ‘n bakery en die vervaardiging van uniforms en ander klere vir sportspanne.
  • Kenmerke:
    • Produkte word nie deurlopend vervaardig nie, maar eerder in bondels.
    • Daar is meer aanpasbaarheid vir ‘n verskeidenheid van produkte.
    • Die masjinerie wat gebruik word is nie so duur as by massaproduksie nie.
    • Werkers spesialiseer in ‘n sekere deel van die proses wat hulle produktiwiteit verhoog.
    • Die hoeveelheid van die bondels kan maklik aangepas word en sal dus vermorsing verminder.
    • Nuwe produkte kan maklik ingesluit word in die produksieproses.
    • Die koste kan hoër wees as by massaproduksie, maar nie te hoog nie, omdat groot bondels van dieselfde produkte vervaardig kan word.
    • Groter hoeveelhede grondstowwe en voltooide produkte moet opgeberg word om verskillende produkte van die kliënte te akkommodeer.
    • Daar kan vertragings voorkom as daar gewag word om een bondel te voltooi voordat daar met ‘n nuwe bondel begin word.
  • Voordele van lotproduksie:
    • Die oprigtingskoste is laer, omdat die masjinerie nie so duur is as vir massaproduksie nie.
    • Die hoeveelhede van die bondels kan beheer word, wat vermorsing sal verminder.
    • Die stelsel is meer aanpasbaar en dit is makliker om oor te skakel na nuwe produkte.
    • Koste is laer, omdat groot bondels soortgelyke produkte gelyktydig geproduseer kan word.
    • Besighede kan die voordeel van grootskaalse aankope benut.
  • Nadele van lotproduksie:
    • Dit is nie altyd maklik om gehalte van elke produk te beheer nie en daarom voldoen dit nie altyd aan al die kliënte se standaarde nie.
    • Soms word tyd verspil as daar gewag moet word om eers een bondel te voltooi, voordat daar met die volgende een begin kan word.
    • Meer opbergspasie is nodig om voltooide produkte te berg.
    • Lotproduksie vereis dikwels verskillende masjinerie, wat duur kan wees vir die besigheid.
    • Sommige werkers raak ongemotiveerd as hulle slegs spesialiseer in een taak.

Stukproduksie

  • Definisie: Met stukproduksie is elke taak uniek en vereis gespesialiseerde werkers, met kreatiewe idees en verskillende tegnieke.
    • Voorbeelde van stukproduksie sluit in trourokke, pasgemaakte seilbote en unieke olieverf skilderye.
  • Kenmerke:
    • Elke kliënt sal unieke voorskrifte gee wat in die finale produk ingesluit moet word.
    • Die masjiene wat gebruik word stem ooreen met algemene masjiene wat vir verskillende produkte gebruik kan word.
    • Die koste van items sal hoër wees omdat dit gemaak word volgens kliënte se voorskrifte.
    • Die gehalte van produkte is uitstekend omdat produkte verrvaardig word volgens voorskrifte.
    • Werkers is vaardig en die koste van die werk sal hoër wees.
    • Die proses neem langer omdat elke item uniek is.
    • Grondstowwe kan nie op grootmaat gekoop word nie en sal duurder wees.
  • Voordele van stukproduksie:
    • Werknemers sal nie verveeld raak nie, aangesien elke taak uniek is.
    • Die vraag na unieke produkte is dikwels hoër.
    • Die gehalte van elke individuele produk is hoog en gehaltebeheer word deurlopend deur die proses uitgevoer.
    • Die oprigtingskoste is nie so hoog nie, omdat gestandaardiseerde masjinerie dikwels gebruik word.
    • Die besigheid kan hoër pryse vra, omdat produkte volgens spesifieke spesifikasies gemaak word.
  • Nadele van stukproduksie:
    • Arbeidskoste is hoog, omdat werkers oor baie hoë vaardighede moet beskik.
    • Grondstowwe is duur en kan nie op grootmaat aangekoop word nie.
    • Die vervaardigsproses neem lank, omdat elke item volgens spesifikasies vervaardig moet word.
    • Die koste per item is gewoonlik hoër.
    • Dit is nie moontlik om die proses te outomatiseer nie.

Produksiebeplanning

Die betekenis van produksiebeplanning

  • Nadat ‘n besigheid besluit het watter produksiebeheerstelsel hulle gaan gebruik, moet hulle die produksieproses beplan.
    • Doelwitte moet gestel word vir die produksieafdeling en beleide moet ontwikkel word om hierdie doelwitte te bereik.
    • Hulpbronne moet georganiseer word om die effektiwiteit van die werkplek te maksimeer, koste en tyd te verminder en uitset te verbeter.
    • Beplanning van die rolle van elke individuele werkenemer, bestelling van voorraad, ens. Alles – tot by die finale lewering van die produkte – moet beplan word.
    • Aangesien daar altyd veranderinge in die produksieproses voorkom, moet beplanning baie deeglik en versigtig gedoen word.
  • Produksiebeplanning moet die volgende aspekte insluit:
    • Werklike produksie
    • Inventaris/voorraad
    • Uitleg van fabriek
    • Produksiekoste.
  • Aspekte om te oorweeg gedurende produksiebeplanning:
    • Beplanning
    • Roetebepaling
    • Skedulering
    • Lading
Beplanning
  • Produksiebeplanning is die beplanning van elke aspek van die hele proses. Die volgende aspekte is deel van die beplanningsproses:
    • Die proses sluit in die uitleg van die fabriek om te pas by die produksiestelsel.
    • Dit moet die vloei van materiale bepaal vir optimale resultate.
    • Dit sluit besluite soos die aankoop van materiale, masjinerie en toerusting in.
    • Die proses moet begrotings, masjiene en berekening van hoeveel werkers benodig word om die verlangde uitset te kan lewer.
Roetebepaling
  • Roetebepaling sluit die beplanning in van die volgorde waarin die bedrywighede moet plaasvind. Bestuur moet bepaal wat die beste goedkoopste volgorde in die produksieproses sal wees.
  • Roetebepaling sal die volgende vrae in ag neem:
    • Watter gehalte en tipe grondstowwe gaan gebruik word?
    • In watter volgorde gaan die produksieproses geskied?
    • Wat is die spesifikasies, byvoorbeeld, die grootte van die finale produk?
    • Wat is die koste-ontleding van die hele proses?
Skedulering
  • Skedulering behels die tydsberekening van die produksieproses. Dit sal ook sekere take prioritiseer en bepaal watter take voltooi moet word voordat die volgende een kan begin.
  • Skedulering sal die volgende aspekte in ag neem:
    • Die roete en lading van beide arbeid en masjinerie.
    • Berekening van die tyd wat vereis word om elke aktiwiteit in die vervaardigingsproses af te handel.
    • Bepaling wanneer elke aktiwiteit moet begin, en daarna die berekening van hoeveel tyd nodig is om die hele proses te voltooi.
    • Bepaling van die tyd wat nodig is vir voorbereiding van grondstowwe, tot en met die tyd wat nodig is vir vervaardiging van voltooide produkte.
    • Bepaling van die tyd benodig vir die aflewering van grondstowwe, en lewering van voltooide produkte, ens.
  • Skedulering word deur verskeie faktore beïnvloed soos die kapasiteit en grootte van die besigheid, beskikbaarheid van personeel, masjiene en materiale.
  • ‘n Skedule met volledige besonderhede sal verseker dat hulpbronne beter gebruik word en dat daar effektiewe beheer oor die proses uitgeoefen word.
Lading
  • Lading sluit in die toedeling van elke persoon aan ‘n spesifieke taak en/of masjien. Dit word gekoppel aan die uitset wat vereis word om bestellings af te handel, en die voorkoming van die oorlading van werknemers en masjiene.
  • Die volgende aspekte moet oorweeg word tydens lading:
    • Die beplanning van wie verantwoordelik sal wees vir elke aktiwiteit soos geïdenti fi seer gedurende die proses van roete bepaling.
    • Die toedeling van elke persoon aan ‘n masjien.
    • Tydens lading word die hoeveelheid tyd bereken wat elke masjien nodig het vir produksie gedurende die dag.
    • Dit dui ook aan watter masjiene nie tot volle kapasiteit gebruik word nie.
    • Lading word gekoppel aan die uitset wat verlang word om bestellings te kan uitvoer en ‘n oorlading van werknemers en masjiene te voorkom.

Die voordele van produksiebeplanning

  • Die volgende is die voordele as produksiebeplanning goed uitgevoer word:
    • Beplanning stel die besigheid in staat om te verseker dat elke masjien en werker tot hul volle kapasiteit benut word en nie ledig gelaat word nie.
    • 'n Besigheid kan verseker dat daar die regte hoeveelheid benodigdhede en voorraad op 'n gegewe tyd is.
    • Beplanning verminder vermorsing en onnodige koste vir vir opberging.
    • Beplanning sal voorkom dat tyd verspil word en die aantal voltooide produkte vermeerder.
    • Die beplanningsproses sluit gehaltekontroles in en verseker dat die korrekte gehalte gelewer word en dat produksietyd afneem.

Die betekenis van produksiebeheer

  • Produksiebeheer sal elke individuele taak en aktiwiteit gedurende die produksieproses beheer. Dit sal ook die aanvang en voltooiing van elke taak vasstel.
  • Aspekte om te oorweeg gedurende produksiebeheer:
    • Uitreiking
    • Inspeksie
    • Opvolg
    • Regstellende maatreëls
Uitreiking
  • Hierdie stadium van die proses behels die uitreiking van opdragte om die werklike produksie te laat begin. Dit omskep beplanning in aksie.
  • Tydens Uitreiking sal opdragte uitgereik word vir:
    • Die beweging van materiale, gereedskap en toerusting na die verlangde plekke.
    • Kontrole van die tyd en koste wat betrokke is in die proses.
    • Kontrole of die vloei van werk geskied volgens die roetebepaling.
    • Toesighouding oor die hele proses.
  • Uitreiking is dus die identifisering van die persoon wat die werk gaan doen en om hom/haar te voorsien van spesifikasies en ‘n lys van materiale.
Inspeksie
  • Inspeksie behels die kontrole van die gehalte van die proses en die finale produk. Dit kan gedoen word met gereelde intervalle gedurende die produksieproses en aan die einde.
  • Inspeksie moet die volgende insluit:
    • Ewekansige seleksie en toetsing van produkte.
    • Ondersoek van produkte.
    • Monsterneming en toesing van produkte.
  • Gedurende die beheerproses, word die wetlike en regulatoriese aspekte van prosesse ook gekontroleer om te verseker dat daar voldoen word aan vereiste standaarde.
Opvolg
  • Gedurende die opvolgproses maak die besigheid seker dat die skedulering en produksiesisteme volgens plan verloop.
  • Die opvolgproses sal die volgende aspekte evalueer:
    • Onbeplande kwessies of probleme.
    • Enige misverstande in terme van werksprosesvereistes.
    • Aanduideing of aktiwiteite volgens plan verloop.
  • Opvolg van die proses is noodsaaklik en help om bottelnekke en misverstande te voorkom.
Regstellende maatreëls
  • Regstellende maatreëls moet enige aanpassings van die beplanningsproses insluit.
  • Regstelende maatreëls kan aktiwiteit soos die volgende insluit:
    • Onderhoud en herstel van masjiene.
    • Aanpassings aan roetebepaling, skedulering en lading.
    • Opleiding van werkers en hantering van ander kwessies met personeel.
    • Oorplasing van werknemers na ander afdelings.

Veiligheidsbestuur

  • Elke besigheid en fabriek moet veiligheidsmaatreëls vir die werkplek instel.
  • Vir fabrieke is dit des te meer belangrik, omdat hulle gevaarlike chemikalieë, gevaarlike masjiene en skadelike stowwe hanteer/mee werk.
  • Besighede word wetlik verplig om die nodige veiligheidsbeleid en maatreëls in plek te kry.

Redes waarom besighede veiligheid moet bestuur in werkplekke

  • Die drie hoofredes waarom veiligheid in die werkkplek toegepas moet word is dat dit wetlik vereis word (gehoorsaam die wet) moreel (omgee vir werkers), en finansieël (om nie vervolg te word of ‘n boete te kry nie).
  • Die volgende is sommige van die redes waarom dit noodsaaklik is vir besighede om veiligheid in die werkplek te bestuur:
    • Werkplekongelukke kan beserings en selfs dood veroorsaak wat moontlike finansiële implikasies vir die besigheid kan inhou.
    • Werkplekongelukke kan ‘n negatiewe impak uitoefen op die beeld van die besigheid.
    • Gereelde en ernstige werkplek ongelukke mag selfs veroorsaak dat beleggers besluit om hulle geld te onttrek en in ‘n ander onderneming te belê.
    • Werknemers kan dalk vertroue in die besigheid verloor en skuif na ander ondernemings.
    • Potensiële werknemers kan dalk besluit om eerder ‘n werksaanbod van ‘n ander onderneming te aanvaar, as as daar te veel ongelukke voorkom.

Vereistes vir ‘n veilige omgewing

  • Vir ‘n besigheid om veilig te wees het hulle die volgende nodig:
    • ‘n veiligheidsbeleid
    • Sigbare waarskuwingstekens
    • Noodhulptoerusting
    • Veilige werksomgewing
    • Voorkomende maatreëls vir die hantering van masjinerie.
Veiligheidsbeleid
  • Besighede moet hul eie veiligheidsbeleid opstel en die nodige beheermaatreëls tref om dit uit te voer.
Sigbare waarskuwingstekens
  • Daar moet sigbare waarskuwingstekens in die werkplek aangebring word.
  • Die besigheid moet sy werknemers inlig oor enige potensiële gevare in die besigheid.
Noodhulptoerusting
  • Dit word van besighede vereis om ‘n volledig toegeruste noodhulpstelle aan te hou op maklik bereikbare plekke.
  • Volgens wet, moet ten minste een werknemer opgelei word om noodhulp te kan verleen en hy/sy moet beskikbaar wees op die perseel.
Veilige werksomgewing
  • Daar moet geen skadelike stowwe wees wat skade, siektes of beserings aan die werknemers of besoekers kan veroorsaak nie.
  • Inligting, instruksies en opleiding moet aan werknemers gegee word.
  • Werknemers moet ingelig word oor die potensiële veiligheidsaspekte en skadelike stowwe.

Werkplek veiligheidsbeleid

Doel van werkplek veiligheidsbeleid
  • Om ‘n kultuur van veiligheid in die besigheid te handhaaf, is dit belangrik vir besighede om ‘n veiligheidsbeleid in plek te hê. Die veiligheidsbeleid moet uitlig hoe veiligheid bestuur word, wie dit bestuur en hoe dit gemeet word. Die veiligheidsbeleid moet onderskryf word deur die leier van die besigheid, aangesien hulle verantwoordelik is vir die deurlopende sukses van die veiligheidstelsel.
  • Hierdie dokument lig uit die “wanneer” en “hoe” van veiligheid en moet uit drie hoofafdelings bestaan:
    • ‘n Verklaring van voorneme (wat die onderneming beplan om te doen): ‘n Geskrewe beleidstelling wat aan werkers en enige ander belanghebbende partye van die besigheid, die verbintenis tot veiligheid van die besigheid toon.
    • Inligting van die besigheid (of wie betrokke gaan wees): Almal wat gemoeid gaan wees in gesondheis- en veiligheidsaspekte in die besigheid.
    • Reëlings (hoe om die beleid te implementeer): ‘n Verduideliking oor hoe die besigheid die belangrikste kwessies gaan hanteer gedurende risiko-ontleding.
Aspekte wat ingesluit moet word in die werkplek veiligheidsbeleid
  • Die volgende aspekte moet ingesluit word in die werkplek-veiligheidsbeleid:
    • Die reg wat elke werker het om in ‘n veilige en gesonde omgewing te werk, moet erken word.
    • Dit moet sigbaar vertoon word aan werkers.
    • Daar moet die voorneme wees om te voldoen aan die minimum standaarde van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid.
    • Dit moet veiligheid as prioriteit met ander doelwitte en beleide van die onderneming stel.
    • ‘n Datum moet gegee word wanneer die beleid hersien sal word.
    • Die beleid moet deur die HUB onderteken word.
    • Dit moet die verantwoordelikhede van die bestuur ten opsigte van beroepsgesondheid en veiligheid uitspel.
Evaluering van die werkplek veiligheidsbeleid en aanbevelings vir verbetering
  • Die gesondheids- en veiligheidsbestuurder vereis dat besighede hul veiligheidsbeleid elke jaar moet hersien. Hulle kan egter besluit om dit elke twaalf maande, elke ses maande of selfs meer gereeld hersien indien omstandighede in ‘n werkplek vining verander.
  • Besighede kan verskillende indikators soos veiligheidsoudits gebruik om aktiwiteite te moniteer en die ernstige aard van ongelukke in die toekoms te verminder.
  • Sommige werknemers gebruik vier SAFE stape om risiko te assesseer.
    • S: sien die gevaar raak
    • A: assesseer die risiko
    • F: make die probleem reg
    • E: evalueer die resultate.

Voorkomende maatreëls wanneer masjinerie hanteer word

  • Enige masjien, groot of klein kan ernstige beserings veroorsaak. Besighede moet die volgende voorkomende maatreëls instel en seker maak dat werknemers daarby hou:
    • Elke werknemer moet bekend wees met die veiligheidsprosedures van die besigheid.
    • Bestuur moet daarna streef om ‘n kultuur van veiligheid in die werkplek te kweek.
    • Die besigheid moet verseker dat alle masjinerie korrek geïnstalleer word en veilig is vir gebruik.
    • Alle werknemers moet behoorlik opgelei word oor hoe om masjinerie te gebruik, asook gewaarsku word oor die gevare van die gebruik van masjinerie.
    • Gereelde veiligheidskontroles moet uitgevoer word, en masjinerie moet gereeld onderhou en gediens word.
    • Werkers moet die nodige beskermende klere en toerusting dra. Dit sluit in items soos oorpakke, veiligheidshelms, swaardiens veiligheidskoene en sweisbrille as hulle werk met masjinerie en toerusting.
    • Harde hoede moet altyd gedra word op konstruksiepersele deur alle persone op die perseel.

Die doel van Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid (WBGV) (No. 85 van 1993)

  • Die hoofdoel van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid (No.85 van 1993) is om gesondheid, veiligheid en welstand van werknemers te beskerm, en om die beveiliging van ander, hoofsaaklik die publiek wat aan risiko’s blootgestel word deur werksaktiwiteite, te verseker.
  • Doel van WBGV:
    • Beskerm die gesondheid, veiligheid en welstand van werknemers
    • Lig die rolle en verantwoordelikhede van werkgewers, werknemers, vervaardigers en verskaffers uit wat betref gesondheid en veiligheid in die werkplek.
  • Die volgende lig die vereistes van WBGV uit:
    • Besighede moet ‘n veilige werksomgewing vestig, sonder om die gesondheid van werknemers in gevaar te stel.
    • Besighede moet gereeld die effektiwiteit van gesondheids- en veiligheidmaatreëls hersien.
    • Die rol en verantwoordelikhede van werkgewers, werknemers, vervaardigers en verskaffers moet aan almal bekend wees.
    • Besighede moet die role n pligte van gesondheids- en veiligheids verteenwoordigers, asook die kommitee uitspel.
    • Alle gevare en potensiële insidente in die werkplek moet geïdentifiseer en uitgeskakel word asook gekommunikeer word aan alle werknemers.
    • Besighede moet die oorsake van ongelukke betreffende werknemrs se gesondheid en veiligheid ondersoek.
    • Werknemers moet aangemoedig word om saam te werk en al die nodige instruksies volg, asook onveilige situasies rapporteer.
    • Die besigheid moet die nodige voorsorg tref rakende die algemene gesondheid en veiligheidskwessies in die werkplek.

Maniere waaarop die besigheid kan voldoen aan WBGV

  • Volgens die Wet het “Alle werkgewers en eienaars van ondernemings ‘n wetlike verpligting om die gesondheid en veiligheid van al hul werknemers in die werkplek te verseker”. Om hierdie rede moet werkgewers verseker dat hul werkplekke voldoen aan die vereistes van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid.
  • Maniere waarmee die besigheid kan voldoen WBGV:
    • Voorsien werkers met die nodige beskermingsklere en toeusting om hulle te beskerm teen potensiële gevare.
    • Verseker dat noodhulpstelle beskikbaar is in die werkplek en die fabriek.
    • Sorg dat brandblussers in die werkplek of fabriek beskikbaar is. Dit moet ook gereeld en deeglik gediens word.
    • Masjinerie moet op ‘n gereelde basis gediens word en behoorlike herstelwerk moet gedoen word.

Gehaltebeheer

Die definisie van gehaltebeheer

  • Besighede moet verseker dat hul produkte voldoen aan die regte standaarde, en dat hul produkte altyd dieselfde standaard het. Om te voldoen aan die vereiste standaarde moet besighede gereeld gehaltebeheer-toetse uitvoer, voor, gedurende en aan die einde van die proses.
  • Gehalte moet deel wees van die kultuur van die besigheid. Gehaltebeheer is daarom:
    • Die proses waarmee verseker word dat goedere en dienste deurlopend met ‘n hoë standaard vervaardig word.
    • Die inspektering van die finale produkte word gedoen om te verseker dat dit voldoen aan die vereiste standaarde.

Totale Gehaltebeheer (TGB) as deel van