Afrikaans Gedig Notes
Die Wêreld het so Klein Geword:
Toe my ouma ‘n kind was, speel hulle op die wye vlakte,
deel granate in die boord,
lees boeke in hulle soek na kennis
en klets met maats as die foun tween kortes en drie langes lui.
As kind bly my ma op ‘n ruim erf.
met ;n grasperk en twee bome,
sit sy vasgenael voor die kassie
vol drome om eendag oor die wye wêreld te swerf.
Sy ken al mense wat oorsee was!
Haar niggies in die stad gaan naweke fliek
en voor matriek sien sy hoe die eerste selfone lyk.
Ek klik met ‘n muis die wêreld tot in my huis,
die is my werf en Gumtree my boom.
Ek is deel van ‘n boek waar mense hul gesigte
gedeeltelik ontsluier en klankloos klets en kuier.
Ek kan kennis inmiddelike op aanvraag verkry
en met ‘n ieder en elk in verbinding bly.
Die moontlikhede is duiselingwekkend
GROOT en die wêreld het so
klein geword dit pas in die
twaalf vierkante
meter van my
kamer
in.
Notes:
Titel:
Figuurlike betekenis: verwys na die wêreld as ‘n globale (universele) dorpie.
Die wêreld het kleiner geword as gevolg van moderne tegnologie.
“so” - dui ip die graad waarin die wêreld kleiner geword het.
Spreker:
‘n Volwasse vrou of tienermeisie.
Strofe 1:
Kortste strofe maar grootste ruimte.
Sluit aan by die eenvoud van die lewe op die plaas.
Reël 1 + 2:
“Toe” - voegwoord word gebruik wanneer iemand ‘n storie vertel.
“wye vlakte” en “boord” - Ouma het waarskynlik op ‘n plaas gewoon.
Reël 3:
Boeke was die ouma se generasi se bron van kennis.
“lees boeke in hul soeke na kennis” - assonansie.
Reël 4:
“klets” - gesels oor kleinighede.
“foun” - slang vir telefoon (spreektaal in die 60’s en 70’s)
“twee kortes en drie langes” - luitoon van die plaastelefoon.
Strofe 2:
Langer strofe, maar reëls is meer kompak as strofe 1 (wêreld word kleiner).
Dit suggereer dat die wêreld al hoe meer kompleks word, veral in terme van tegnologie.
Reël 5 + 6:
“ruim erf” - Ma bly in die dorp op ‘n groot erf.
Steeds plek vir ‘n groot tuin.
Reël 7:
“vasgenael voor die kassie” - Ma is geboei of gefassineer deur wat sy op die televisie sien.
“kassie” - informeel vir televisiestel.
Ironie - Ma woon op ‘n groot erf, maar spandeer haar tyd binne voor die televisie.
Aandagstreep - vestig aandag op die inligting wat volg in reël 8. Meer inligting volg oor hulle drome oor plekke wat hulle op die televisie sien.
Reël 8:
Televisie stel die ma bloot aan plekke regoor die wêreld en sy droom daarvan om hierdie plekke te besoek.
“wye wêreld” - w-alliterasie beklemtoon die idee van ‘n wye wêreld wat wag om ontdek te word.
Reël 10 + 11:
“Haar niggies in die stad gaan naweke fliek” - die bioskoop word ‘n gewilde vorm van vermaak in die stede.
“en voor matriek sien sy hoe die eerste selfoon lyk” - nuwe tegnologie, 1994 in Suid-Afrika.
Strofe 3:
Langste strofe in die gedig.
Die lengte beklemtoon die groot oorvloed van informasie op die internet beskikbaar.
Die beknopte/kompakte tipografie en kort reëls sluit aan by die idee dat die wêreld soveel kleiner geword het.
Enjambement in reëls 18 to 24 versnel die tempo en is in kontras met die stadige tempo can strofe 1.
Spreker se fisiese leefruimte is kleiner as haar ma en ouma s’n.
Reël 12:
Deur middle van tegnologie (die rekenaar) het die spreker toegang toe die internet, dus kan sy die hele wêreld tot in haar kamer bring.
Reël 13:
Metafore - die internet is die spreker se speelplek.
Die wêreldwye web word metafories vergelyk met die plaaswerf waar haar ouma gespeel het.
Gumtree (advertensiewebwerf) word metafories vergelyk met die bome waar haar ouma gespeel het.
Reël 14 + 15:
“boek” - woordspeling op Faceboek asook ‘n verwysing na die boeke wat haar ouma vir kennis gebruik het.
“gedeeltelik ontsluier” - letterlike en figuurlike betekenis.
“klankloos klets en kuier” - k-alliterasie beklemtoon die oksimoron tussen klankloos en klets.
Klets (r. 4) en klets (r. 15) in kontrasterend: spreker klets indirek (elektronies, klankloos) terwyl haar ouma direk klets (telefonies, met klank).
Reël 16 + 17:
Inligting en kennis is maklik bekombaar vir die spreker, in vergelyking met haar ouma.
Deur die kliek van ‘n muis kan sy inligting kry asook met mense kommunikeer.
Reël 18 + 19:
“duiselingwekkend” - gevoel van opwinding oor al die moontlikhede wat die internet hou.
Woord word tipografies opgebreek - slaap ‘n visuele beeld.
GROOT word beklemtoon deur die gebruik van hoofletters. Dit beklemtoon die idee dat die moontlikhede groot en oorweldigend is.
Visuele kontras tussen GROOT (r. 19) en klein (r. 20)
Reël 20 tot 24:
Die spreker het ‘n wêreld vol inligting en dit alles pas in haar klein kamertji in.
Geografies is sy beperk tot haar kamer, maar kan ook alles inpas deur middel van tegnologie.
Tema:
Die internet bring die wêreld tot in ons huis.
Moderne tegnologie het ‘n groot impak op die leefwyse van moderne generasies.
Digvorm:
Vrye vers.
Geen vaste rymskema kom voor nie, maar daar is wel leestekens en hoofletters.